VOORUITSKOUING - 2017

Ons damme het genoeg water en die situasie is soveel beter as verlede jaar toe ons alle denkbare maatreëls moes tref om die bome te beskerm teen droogte-skade met min water tot ons beskikking.
 
Ons uieplantery is op datum en daar is genoeg water om ons groente-aanplantings normaal voort te sit, in teenstelling met verlede jaar toe ons aanplantings aansienlik moes inperk. Ons boomaanplantery is ook op datum en te oordeel aan die blomme op die bome, lyk die vrugte-oes ook belowend.

Die oesseisoen lê om die draai! Ons begin reeds oor ‘n maand op Swartdam nektariens oes en kort daarna, in November, begin die kersie-oes op Excelsior. Dan is dit weer Cherry Time! Ons is ook baie dankbaar vir die positiewe span mense wat alles ingesit het om ons landboupraktyke en huishouding opdatum te bring. Die span is gereed vir die uitdagings wat op hulle wag!

Ons het baie mooi suksesstories om te vertel van mense wat ons op leerlingskappe gestuur is en wie ander opleiding ontvang het en wil graag meer van hierdie geleenthede gebruik maak om mense se potensiaal te ontgin en in hulle te belê.

Ons het ook wonderlike planne om ons mense se talente op ander vlakke as landboubedrywighede te ontgin. Ons het jare gelede karnaval gehou en wil graag daardie gebruik weer terugbring. Ons wil dit hierdie keer sommer ‘n grote maak. Begin solank oefen!

George Bokkies het vir ons gewys wat gedoen kan word deur ‘n Dutoit’s Got Talent in die Oos-Kaap aan te bied en ons wil meer sulke geleenthede skep waar mense hulle talente kan wys. Ons dryf is om gebalanseerde mense in Dutoit te hê wat harde werk kan afwissel met sport en die uitleef van hulle talente op ander terreine.

Met soveel positiewe nuus en vooruitsigte lê daar ‘n mooi jaar voor. Baie dankie vir almal se harde werk. Ons is almal deel van ‘n groter span en elkeen se rol is belangrik om die ratte van die Dutoit-masjien te laat draai. Baie sterkte vir elkeen vir die besige tyd wat voorlê!